Doen en leer program help kinders lees
Die Doen en Leer Leesprogram is besig om die lewens van talle laerskoolleerders in die landelike gebiede van die Stellenbosch se wynlande te verander deur fasiliteerders op te lei om kinders te leer lees.
Die program is deur die oud- onderwyseres, wyle Dr Rose Botha ontwikkel en word tans met die ondersteuning van Vriende vir Afrikaans (VVA) en Anna Oppel van die Bottelary Heuwels Renosterveld Bewarea (BHB) in Bottelary, Devonvallei en Vlottenburg uitgerol. Die VVA ondersteun sedert 2014 die Doen en Leer Leesprogram landwyd om die leeskrisis in die land te verlig.
Volgens die formidabele mevrou Anna Oppel wat sedert 2017 die leiding neem met verskeie gemeenskapsontwikkelingprojekte in die BHB, is die Doen en Leer Leesprogram moontlik gemaak deur befondsing wat ontvang is van Stellenbosch Munisipaliteit se Toekenning en Hulpfonds.
Wat die kostes aanbetref, dra die ATKV die kostes t.o.v opleiding, reis-en vervlyf. Die aankoop van pakkette en boeke vir die leerders is die skool/instansie se verantwoordelikheid.
“Dit is werklik kommerwekkend dat daar leerders in die Intermediêre klasse sit wat nie kan nie lees nie en daarom sukkel met skoolwerk. Hierdie intervensieprogram help sulke leerders om hulle volle potensiaal te ontwikkel deur te kan lees. Ons sien reeds die impak by Bottelary Primer waar ons verlede jaar twee onderwysers en vrywilligers opgelei het wat talle kinders met leerprobleme kon help,” sê Anna wat self ‘n afgetrede onderwyseres is met ‘n passie vir die jeug.
Die afgelope maand, het nog ‘n groep vrywilligers en onderwysers by Vlottenburg en Devonvallei Primêr ‘n werkswinkel deur Dokka Swart van die Doen en Leer Leesprogram bygewoon waartydens hulle ook die nodige handleidings ontvang het om die program by hulle onderskeie skole te kan aanbied.
Dokka Swart verduidelik in kort dat die program letterlik fokus daarop om kinders woordjie vir woordjie, met prentjies en aksies te leer lees. “Dit gaan oor die konnotasie wat kinders maak om die woorde vas te lê en ook om selfvertroue te bou. Ons werk gewoonlik met vyf woorde per les, ons doen aktiwiteite en speletjies om seker te maak die leerders verstaan die woord voordat hulle sinne bou. Dit klink eenvoudig, maar dit werk. Ek demonstreer ook die metodiek van die leesprogram met ‘n groepie leerders tydens die opleiding sodat kursusgangers dadelik die impak kan sien.”
Volgens Anna is die nood groot en sou hulle graag meer onderwysers wou oplei en meer kinders wou help, maar fondse is beperk. Die ATKV help deur VVA met die kostes ten opsigte van opleiding, reis-en vervlyf. Die aankoop van pakkette en Doen en Leer werkboeke vir die leerders, is egter die BHB of skool se verantwoordelikheid.
Die BHB is in 1992 deur grondeienaars gestig onder leiding van die wyle Stevie Smit en bewaringsinstansies om toe te sien dat die geskatte oorblywende 1500 hektaar Renosterveld in die gebied wat ongeveer 10 000 hektaar beslaan, behoue bly. Dit is ‘n nie-winsgewende organisasie en vorm deel van die Kaapse Wynland Biosfeer.
In 2012 is die BHB Bergfietsroete bekendgestel met toegang tot meer as 60km se asemrowende roetes. Alhoewel meeste van die fondse van die bergfietsroete vir indringerbeheer aangewend word, gaan ‘n gedeelte na die BHB Gemeenskapsontwikkelingsprogram. Die program se boublokke is kinder-en jeugontwikkeling, gesondheid, werksgeleenthede en gemeenskapsaktiwiteite.
Jaarpermitte vir die BHB Bergfietsroete is aanlyn beskikbaar by www.bottelaryconservancy.co.za terwyl dagpermitte by spesifieke punte aangekoop kan word. Navrae oor die BHB kan gerig word aan christel@bottelaryconservancy.co.za.